Copy
Welkom by Maart 2017 uitgawe van die Rooivleis Produsente Organisasie Nuusbrief 
View this email in your browser

RPO bou verhoudings met bure

Verteenwoordigers van die nasionale RPO, die Namibië Landbou-unie (NLU) en die Lewendehawe Produsente Organisasie (LPO) van Namibië het onlangs ‘n verkennende gesprek gehou met die doel om verhoudings te bou en kommunikasiekanale oop te maak.

Uitvoere is een van die sake wat bespreek is. Volgens die LPO kry Namibiese boere geen voordeel in terme van huidige uitvoere nie.

Die vergadering was dit eens dat die ideaal sal wees om protokolle in plek te kry en die mark toe te laat om die res te doen. Die Australiese voorbeeld werk nie noodwendig in Afrika nie 

Die RPO is versoek om die markte te help oopmaak en dan die vryemark toe te laat om uit te voer.

Ander sake wat bespreek was, sluit in  die droogte, wildboerdery, die Suid-Afrikaanse klassifikasiestelsel, invoerpermitte vir lewendehawe vanaf buurlande en naspeurbaarheidstelsels.

Onthou om teen slenkdalkoors in te ent

Die Direktoraat Dieregesondheid van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het alle veeboere herinner om beeste, skape en bokke teen Slenkdalkoors in te ent.
Slenkdalkoors is ‘n ernstige virale siekte wat deur muskiete versprei word en aborsies en mortaliteite in beeste, skape en bokke kan veroorsaak. Mense kan ook met Slenkdalkoors besmet raak, wat ‘n baie ernstige siektetoestand is. Goeie reënval, soos wat onlangs voorgekom het, sal lei tot ‘n toename in die aantal muskiete wat die siekte kan oordra.
Een van die beste maniere om te voorkom dat die siekte in mense en diere ontwikkel is om beeste, skape en bokke met ‘n geregistreerde entstof teen Slenkdalkoors in te ent. Die entstof moet voor enige Slenkdalkoors-uitbreking toegedien word, want as dit gedurende ‘n uitbreking toegedien word kan die siekte verder versprei. Dragtige diere moet slegs met die OBP ongeaktiveerde entstof of die OBP Kloon 13-entstof ingeënt word. Alle nie-dragtige diere behoort met die OBP se lewendige Slenkdalkoors-entstof of met die Kloon 13-entstof ingeënt te word.
Kontak asseblief jou staatsveearts vir meer inligting.

Entstowwe beskikbaar by OBP

Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) het ‘n waarskuwing uitgereik dat die huidige nat toestande gunstig is vir insek-oordraagbare siektes.

OBP het die nat toestande voorsien en daarom voorrade van entstowwe teen die mees algemene insek-oordraagbare siektes opgebou. Die volgende produkte is tans by die OBP beskikbaar: Entstowwe teen Slenkdalkoors, drie-dae-stywe-siekte, knopvelsiekte en Bloutong.


Inligtingsdae in die Noord-Kaap aangebied

Die Noord-Kaapse RPO en die NWKV bied van 7 tot 9 Maart 2017 ‘n reeks inligtingsdae in die Noord-Kaap aan.

Op 7 Maart word die inligtingsdag in Fraserburg gehou, op 8 Maart in Richmond en op 9 Maart in Griekwastad.

Die tema is “Wat is jou verskoning om nie suksesvol te boer nie?”. Sprekers sluit in Dr Louis du Pisani, Prof Dirk Coetzee, mnre Herman Hugo, Gerhard Schutte en Alex Cilliers.

Kontak Dirk Krapohl by 082 604 1320 of 053 832 9595 vir meer inligting en besprekings of e-pos rpo@agrink.co.za


Wildbedryf gaan gereguleer word

Suid-Afrika se multimiljoenrand wildbedryf gaan binnekort onder dieselfde regulasies as ander rooivleis beheer word.

Ingevolge nuwe regulasies sal die verwerking van wildsvleis soos volstruis, bosvark en sebra dieselfde inspeksies as rooivleis soos bees en skaap moet ondergaan. Dit sal verseker dat praktyke veiliger en meer higiënies is. Na verwagting sal die inspeksies binnekort begin.

Hoewel daar nog heelwat onsekerheid is oor hoe die inspeksies toegepas gaan word, is vleisprodusente en –verwerkers oor die algemeen ten gunste van die verandering.

Wild SA Voorsitter mnr Piet Neethling sê wette en regulasies het baie op jag en vervoer gefokus, maar daar was voorheen geen verpligte inspeksie van vleis voor dit aan die publiek verkoop is nie. Die nuwe regulasies beteken dat wildsvleis dieselfde prosesse as ander kommersiële rooivleis sal ondergaan. Dit behoort handelaars en verbruikers meer gemoedsrus te gee en die produk sal as veiliger beskou word.

Bron : http://www.heraldlive.co.za


Departement vergader met china oor beesvleis-uitvoere

Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het ‘n afvaardiging van die algemene administrasie van gehaltebestuur, -inspeksie en kwarantyn (AQSIQ) van China ontvang en samewerking sowel as sanitêre en fito-sanitêre sake bespreek met die oog daarop om Suid-Afrikaanse beesvleis moontlik na dié land uit te voer.
Beide partye het saamgestem oor die meganismes wat samewerking in sanitêre en fito-sanitêre sake kan versterk. Albei het ook ingestem om die memorandum van verstandhouding (MoU) oor diereprodukte-inspeksies en kwarantyn-maatreëls ten opsigte van veterinêre maatreëls met betrekking tot die uitvoer van Suid-Afrikaanse beesvleis na China in heroorweging te neem.

Voorkomende maatreëls om bio-sekuriteit te ondersteun

Voorkomende maatreëls word vereis om die kudde teen siektes te beskerm wat opgedoen kan word weens eksterne kontak, volgens die maandelikse verslag oor dieresiekteneigings soos informeel gerapporteer deur die HerkouernVeterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA).
Die volgende kategorieë is van belang :-
Lees meer ...

Perspektief 

Die geskiedenis, waarde en toepaslikheid van die GVE stelsel
Onlangs is ek dikwels genader oor wat beteken die begrip Grootvee-eenheid (GVE) en waar kom dit vandaan. Ek was eers ‘n bietjie uit die veld geslaan omdat dit so ‘n integrale deel is van ons weidingkapasiteit- en veeladingberamings, totdat ek besef het dat ‘n nuwe geslag  boere het intussen oorgeneem wat nie daarmee groot geword het nie. Die oorspronklike artikels daaroor het immers al die lig gesien in 1983! In die laaste maand of twee het ek dan ook hieroor vir twee tydskrifte geskryf, maar ek het gedink dit is miskien goed om dit ook vir die Nuusbrief te doen.
Lees meer ...
Laai u elektroniese weergawe van die Rooivleistydskrif hier af

Die nasionale minimum loon aangekondig

Die Adjunk President, Cyril Ramaphosa het ‘n aankondiging gemaak oor die
lang verwagte nasionale minimum loon.

Die aankondiging oor ‘n nasionale minimum loon wat op 1 Mei 2018 in werking sal
tree, is gebaseer op ‘n uurlikse tarief van R20. Die landbousektor sal vir eers 90% van
genoemde loon moet betaal. Dit kom daarop neer dat landbou R18 per uur sal
betaal. Die 2018 implementeringsdatum is nou ‘n jaar vroeër as wat aanvanklik
aangekondig is.
Lees meer ...

Opgedateerde handleidings is nou beskikbaar

Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het aangekondig dat die opgedateerde brusselose- en tuberkulose handleidings wat die 2013 weergawes vervang, nou op die Departement se webbladsy beskikbaar is.

Beide handleidings is aangepas om die gehalte daarvan te verbeter en geen wetlike- of beleidsaanpassings is gemaak nie.

Die handleidings is beskikbaar by http://daf/goc.za/daffweb3/Branches/Agricultural-Production-Health-Food-Safety/Animal-Health/information/dahpolicy


Beesboer van die jaar se boeredag aangebied

Die Nasionale Beesboer van die Jaar, mnr Heinrich Bruwer, se Voermol boeredag word op 23 Maart 2017 op sy plaas Lovedale naby Vryburg aangebied.

Veldbestuur is die kern van sy besigheid en dit het ‘n direkte invloed op vrugbaarheid, speengewig en lek-inname, wat ‘n groot uitgawe in veeboerdery is. Hy maak gebruik van ‘n vyf kamp-stelsel waar een kamp elke jaar vir ‘n jaar lank rus. Ondanks die afgelope vier jaar se lae reënval, handhaaf hy ‘n kalfpersentasie van 90%. ‘n Embrio-spoel en –inplantfasiliteit is onlangs op sy plaas gebou en hy versnel genetiese vordering deur embrio’s van die beste genetika te spoel en in surrogaatkoeie oor te plant.

Tydens die geleentheid sal verskeie sprekers van Voermol ook optree, sowel as mnr Dawie Maree van FNB.

 Kontak me Amanda Bruwer by 082 979 4452 of mnr Gawie Coetzer by 082 774 3874 vir navrae en besprekings.


Kanada gaan help met entstowwe

Kanada het R60 miljoen bewillig vir die ontwikkeling en verbetering van entstowwe deur die LNR.
Dr. Shadrack Moephuli, Hoofbestuurder van die LNR, het met die bekendstelling van
die organisasie se jaarverslag vir 2015-’16 gesê gedwonge begrotingsbesnoeiings het
’n groot impak op die Raad se werk gehad.
Lees meer ...

Kollig op grondbesit-ooreenkomste

Ter wille van toekomstige afdwinging behoort die volgende prosedure gevolg te
word vir die behoorlike implementering van grondbesitooreenkomste, volgens
Agri SA :-
D
it sal as ‘n eerste stap wys wees om die konsepooreenkoms deur te lees
en seker te maak dat dit by die eienaar se spesifieke behoeftes aangepas
is.
Lees meer ...

Beesvleispryse bly stewig

Internasionaal mag beperkte Australiese en Nieu-Seelandse beesvleisvoorrade voortgaan om pryse te rugsteun, volgens ABSA Agri Trends.
Tekort aan maer en ekstra maer maelvleis in Amerika sal pryse ook sterk hou.
Plaaslik is die vooruitsigte vir beesvleispryse in 2017 positief, met pryse wat oor die
afgelope weke heelwat gestyg het.

Internasionaal
Gedurende die week van 14 Februarie 2017 het Nieu-Seelandse bulle meestal sywaarts verhandel teen 5.21NZ$⁄kg en koeie het sywaarts verhandel teen 3.92NZ$⁄kg onderskeidelik vergeleke met die vorige week.
Lees meer ...

Internasionale vraag na skaapvleis is positief

Internasionaal bly die vraag na skaapvleis hoog, wat pryse rugsteun. Pryse mag
ook ondersteun word soos wat dit begin reageer op voorraadtekorte, volgens
ABSA Agri Trends.

Plaaslike pryse word deur gunstige weerstoestande ondersteun, wat kuddebou op sy beurt bevoordeel. 
Internasionaal
Die Nieu-Seelandse lamspryse was in die week van 14 Februarie 2017 meestal hoër vergeleke met die vorige week. Lam het hoër afgesluit op NZ$78.0⁄kop vir ‘n 15kg lam. Lamspryse het sywaarts beweeg teen NZ$109.2⁄kop vir ‘n 21kg lam. Ooie het sywaarts afgesluit teen NZ$65.1kop vir ‘n 21kg ooi. Invoerpariteitspryse vir lam was 1.07% laer teen R56.65⁄kg, terwyl die invoerpariteitsprys vir skaapvleis 0.74% laer was teen R37.92⁄kg.
 
Lees meer ...
Laai u PMF nuusbrief hier af ...
Share
Tweet
Forward
Copyright © 2016 Red Meat Producers Organisation, All rights reserved. 

Ons epos adres is
Posbus 132
Persequor Park
0020


Ons webtuiste is:
www.rpo.co.za
 
Neem asseblief kennis hierdie e-pos is nie gemorspos nie. Dit is ’n nuusbrief van die RPO aan u, die gewaardeerde rooivleisprodusent 
kanselleer intekening | dateer u inligting op 






This email was sent to <<Email Address>>
why did I get this?    unsubscribe from this list    update subscription preferences
Red Meat Producers Organisation · 318 The Hillside · Lynnwood · Pretoria, GP 0204 · South Africa