Copy
Welkom by Julie 2018 uitgawe van die Rooivleis Produsente Organisasie Nuusbrief 
View this email in your browser

 Provinsiale Dieregesondheidsforums staan sterk

 

Die provinsiale Dieregesondheidforums het goed van die grond af gekom en vordering is ook gemaak in verskeie van die nasionale Dieregesondheidsforum se komitees, het dr Pieter Vervoort in sy voorsittersverslag tydens die Forum se algemene jaarvergadering gesê.
Hy het gesê die nasionale Dieregesondheidsforum gaan voort om die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye te ondersteun met die implementering van die nasionale veterinêre strategie wat as die basis van alle besluite dien.
Lees meer ...

Veldtog teen lewendige uitvoere skop af

"Animal Voice", ‘n Suid-Afrikaanse organisasie wat hom oor plaasdiere ontferm, het met ‘n veldtog begin om die uitvoer van lewende beeste en ander vee stop te sit.
Bewaringsorganisasies van oor die wêreld heen het met die hutsmerk #StopLiveTransportDay veldtogte op sosiale media in hul lande begin.
Animal Voice skryf op die dekblad vir ‘n versoekskrif wat gerig is aan mnr Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, en mnr Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, hulle moet toesien dat die uitvoer van alle lewendige diere uit Suid-Afrika na Mauritius om daar geslag te word, onmiddellik gestaak word.
Volgens die brief is die uitvoer van lewendige diere wat weke lank op skepe moet deurbring, onmenslik en ‘n klap in die gesig van die mensdom.
Animal Voice voel Suid-Afrikaners behoort nie daarmee geassosieer te word nie.
Bron : Beeld, 15 Junie 2018

Uitdagings bespreek by Wes-Kaap RPO-Kongres

Klimaatsverandering, politieke onsekerheid, veediefstal en dieregesondheid was van die belangrikste uitdagings wat tydens die algemene jaarvergadering van die Wes-Kaapse RPO wat onlangs in Morreesburg aangebied, bespreek is.
Mnr Louis Wessels het in sy voorsittersverslag gesê dit is ontstellend dat slegs 30% van veediefstalvoorvalle by die polisie aangemeld word. As veediefstal nie aangemeld word nie, word die omvang daarvan onderskat. As meer veediefstalgevalle aangemeld word, sal die polisie meer hulpbronne soos personeel en voertuie aan die bekamping van die misdaad toeken.
Lees meer ...

Protokol oor smokkel van beeste aanvaar

‘n Protokol oor die voorkoming, bestryding en uitwissing van beessmokkelary in Oos-Afrika is aanvaar.
Dit is deur die Republieke van Burundi, Djibouti, Kenia, Rwanda, Seychelles, Somalië, Soedan, Tanzanië, Uganda, Ethiopië en die Staat van Eritrea onderteken.
Lees meer ...

Onwettige slag van donkies deur LWCC aangespreek

Die probleem van die onwettige slag van donkies is tydens die laaste vergadering van die Lewendhawewelsynskoördineringskomitee (LWCC) aangespreek.
Hoewel die probleem op baie vlakke aangespreek is, is daar geen vordering met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye in dié verband gemaak nie. Die departement is versoek dat die Diere-identifikasiewet ook op donkies van toepassing gemaak word. Skynbaar is daar geen politieke wil om die probleem van onwettige slagtings aan te spreek nie, ondanks die risiko wat dit vir menslike gesondheid inhou. Sommige boere beskou die produksie van donkievleis as ‘n moontlike kommersiële onderneming. Donkies wat by geregistreerde abattoirs in die land geslag word, is veilig om te eet, maar dit is nie die geval met onwettige slagtings nie.
Lees meer ...

Hou jy van braai? Wees bly jy is nie ‘n Switser nie

Die Switsers betaal verreweg die meeste vir bees-, hoender-, vark- en skaapvleis en boonop die meeste vir vis in vergelyking met die res van die wêreld, met vleispryse sowat 14,2% hoër as die wêreldgemiddeld, volgens ‘n internasionale voedselprysindeks.
In Suid-Afrika is vleis gemiddeld 20% goedkoper as die wêreldgemiddeld.
Wanneer dit by beesvleis kom, betaal Switsers 149% meer as die wêreldgemiddeld, gevolg deur Noorweë (63,7% duurder) en Hongkong (61% duurder), terwyl Oekraniërs 52,3% minder vir beesvleis betaal as die wêreldgemiddeld en Maleisiërs  50,3% minder.
Lees meer ...

Verbod op uitvoer van huide ondersteun

Die Huie-, Velle- en Leerraad (SHALC) het eenparig besluit om die Departement van Handel en Nywerheid se versoek vir ‘n verbod op die uitvoer van nat- en droë gesoute beesvelle te ondersteun.
In verdeelde besluite is daar ooreengekom om die instelling van ‘n uitvoerheffing op heel velle en gesplete blou/nat wit beesvelle te ondersteun. In nog ‘n verdeelde besluit is daar gevra dat nat blou gesplete velle van uitvoerheffings gevrywaar moet wees.
Lees meer ...

Ent jou diere in teen slenkdalkoors

Met die onlangse amptelike kennisgewing van ‘n uitbreek van Slenkdalkoors in die Jacobsdal omgewing is boere genoodsaak om te besluit wat gedoen moet word, volgens die maandelikse verslag oor dieresiekteneigings soos informeel gerapporteer deur die Herkouer Veterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA).
Dit is riskant om skape, bokke en beeste ongeënt te laat aangesien grootskaalse verliese en veral aborsies mag volg. Niemand kan seker wees van toekomstige weersomstandighede of die uitwerking van die volgende somerreëns nie en dus kan niemand uitbreke of verliese voorspel nie.
Lees meer ...

Hoe ontwikkel weerstand teen antibiotika en wat is die gevolge?

Ek het gedink dat dit ‘n doel sal dien om die probleem van weerstand teen antibiotika, of AMR soos dit in die pers bekend is, te bespreek aangesien dit veeboerdery in die nabye toekoms sal beïnvloed, indien nie reeds nie. Vir daardie doel het ek ‘n onlangse oorsig geraadpleeg (hieronder aangehaal) wat u miskien kan lees vir meer inligting.
Lees meer ...
Laai u elektroniese weergawe van die Rooivleistydskrif hier af
Share
Tweet
Forward
Laai u PMF nuusbrief hier af ...
Veilings in Julie

Dankie, Jaco Taute

Vrystaat Landbou het mnr Jaco Taute, Voorsitter van die Interprovinsiale Veediefstalvoorkomingsforum (IPVVF), geloof vir die goeie werk wat hy doen.
Vrystaat Landbou is saam met die RPO baie nou betrokke by die voorkoming en bekamping van veediefstal in samewerking met die SA Polisiediens binne die Landelike Beveiligingstrategie in die Vrystaat. Die IPVVF doen uiters goeie werk in die opsporing van vee wanneer diefstalle via whatsapp aan die groep deurgegee word en werk tussen Gauteng, Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga.
‘n Versoek is onlangs deur die bi-laterale forum tussen Suid-Afrika en Lesotho se wetstoepassers aan Vrystaat Landbou gerig dat verteenwoordigers van die Lesotho polisiediens en die SAPD die markte/afsetgebiede van gesteelde vee in Gauteng besoek. Taute het baie moeite gedoen om die GPS-koördinate (“pin drops”) van die elf geïdentifiseerde markte beskikbaar te stel. Al die inligting is vervat in ‘n dokument wat aan die Prioriteitskomitee vir Landelike Veiligheid oorhandig is.
Mnr Taute se onbaatsugtige diens en opofferings aan die landbouers in vier provinsies en veral in die Vrystaat, verdien spesiale vermelding.

Gradering van Amerikaanse state se beesgetalle

Amerika se beesinventaris staan vanjaar op 94.399 miljoen beeste.  
Texas het die meeste beeste in Amerika, gevolg deur Nebraska en Kansas. 
Altesaam 31 state het meer as 1 miljoen beeste, 14 state het meer as 2 miljoen en 9 state het meer as 3 miljoen beeste. Meer as 13% van die beeste in Amerika is in Texas.
Texas besit minder as 50% van die beeste in Suid-Afrika, terwyl laasgenoemde geografies net so groot soos Texas is.
Bron : http://beef2live.com/story-ranking-states-cattle-0-108182

Veediewe se modus operandi bly ‘n uitdaging

Die Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum is by baie vergaderings en misdaadvoorkomingsgroepe oor die hele land betrokke en dit is duidelik dat die modus operandi van oortreders ‘n groot uitdaging is, veral in Gauteng.
Die Forum het reeds by vorige geleenthede teen verskeie aspekte van veediefstal gewaarsku, sowel as die betrokkenheid van die vee-eienaar om sy lewendehawe te beskerm. Die jongste bewyse toon dat vee-eienaars meer waaksaam is en hul diere gereeld tel. Hulle haas hulle ook na veilings en abattoirs wanneer hul vee gesteel is. Dit bemoeilik sake vir veediewe en die gevolg daarvan is dat meer en meer brutale slagtings van diere op ‘n daaglikse basis plaasvind.
Sulke slagtings kom veral in die oostelike en suidelike gedeeltes van Gauteng in gebiede soos Bronkhorstspruit, Welbekend, Akasia en Temba voor. In die Vrystaat moet spesiale vermelding gemaak word van gebiede soos Heilbron, Deneysville, Zamdela, Parys en Vredefort. 
Daarom moet die publiek bewus gemaak word van die impak van veediefstal, die brutaliteit wat daarby betrokke is, asook die verandering in die modus operandi van oortreders.
Ongeag die ekonomiese impak van veediefstal is die wreedheid en die manier waarop die misdaad uitgevoer word, heeltemal onaanvaarbaar.

Nuwe lig op Amerika se beesboere gewerp

‘n Verslag werp nuwe lig op produsente se verbintenis tot dierewelsyn, beesvleisgehalte, volhoubaarheid en gemeenskapsbetrokkenheid onder Amerika se beesboere wat verantwoordelik geproduseerde beesvleis tot gevolg het.
Die Cattlemen’s Stewardship Review (CSR), wat deur die Beef Checkoff befonds en in 2017 voltooi is, is die tweede van sy soort en versamel data wat deur telefoniese onderhoude met 679 beesboere oor die land versamel is. Die verslag bewys dat daar in die afgelope jare vordering gemaak is in die vier belangrikste areas in die beesvleisbedryf, naamlik gesonder diere, beter beesvleis, die slimmer aanwending van natuurlike hulpbronne en sterker gemeenskappe.
Lees meer ...

Vraag na beesvleis is steeds hoog in Amerika

Internasionaal bly die vraag na beesvleis baie sterk in Amerika, veral van die handel en uitvoermaatskappye se kant, volgens ABSA Agri Trends.
Die Amerikaanse mark het die hoogtepunt van sy vraagseisoen bereik en dit hou pryse stewig.
Plaaslik mag die laer voerpryse en die gebrek aan speenkalwers daartoe bydra dat die kudde oor die medium termyn herbou word, wat sal beteken dat karkaspryse nog vir lank hoog sal bly. Pryse sal na verwagting verder ondersteun word gedurende die maandeinde.
Lees meer ...

Internasionale lam- en skaappryse is hoog

Internasionaal gaan ‘n sterk vraag na lam- en skaapvleis voort om pryse stewig te hou, volgens ABSA Agri Trends.
Plaaslik sal pryse na verwagting baat by maandeinde-aanvraag.
Internasionaal
Nieu-Seelandse lampryse het tydens die week van 22 Junie hoër verhandel vergeleke met die vorige week. Lamspryse het 0.6% hoër afgesluit teen NZ$115.1/kop vir ‘n 15kg lam. Lamspryse was 0.7% hoër teen NZ$161.2/kop vir ‘n 21kg lam. Ooipryse het sywaarts verhandel teen NZ$106.6/kop vir ‘n 21kg ooi.
Lees meer ...

Skaapvleis SA se nuwe videoreeks, “Making the Cut”

By Skaapvleis SA sien ons Suid Afrikaanse slagters en slaghuise as baie belangrike opinieleiers en vennote wat help om verbruikers te beman met inligting sodat hul goeie verkoopsbesluite kan maak. Ons glo as die slagter ingelig en positief is oor ‘n produk sal die verbruiker positief en ingelig wees oor ‘n produk! Verder glo ons ook as ons die verbruiker kan wys hoeveel kennis hul slagters het, hul die vrymoedigheid sal hê om meer met hul plaaslike slagter te gesels en om hulp te vra. Daarom het Skaapvleis SA besluit om ‘n nuwe videoreeks genaamd, “Making the Cut”, te maak saam met die South African National Butchers Challenge.
Lees meer ...

 Ons epos adres is
Posbus 132
Persequor Park
0020


Ons webtuiste is:
www.rpo.co.za
 
Neem asseblief kennis hierdie e-pos is nie gemorspos nie. Dit is ’n nuusbrief van die RPO aan u, die gewaardeerde rooivleisprodusent 
kanselleer intekening | dateer u inligting op 

Copyright © 2016 Red Meat Producers Organisation, All rights reserved.






This email was sent to <<Email Address>>
why did I get this?    unsubscribe from this list    update subscription preferences
Red Meat Producers Organisation · 318 The Hillside · Lynnwood · Pretoria, GP 0204 · South Africa